Monday, January 4, 2010

Tieners

Ek was die tiener uit die hel gewees. Ek sit vandag en terug dink aan die tyd toe die poliesie ons by die skool kom haal het. Ons is nou vir my en Thys.

Thys was in St.7 en ek in St.8. Thys was wel ‘n jaar ouer as ek, en so mooi soos ‘n engel. So een aand stap ek en Thys terug huis toe van die Spur af. Ons het altyd Vrydag aande daar bymekaar gekom saam met ons buddies, en ek en hy voel toe dat dit ‘n goeie tyd is om te gaan kuier by die enigste kroeg in ons ou dorpie. Tropicana was die naam van die ou plekkie gewees.

Jy hoef net daar in te stap om depressief te word, maar die wêreld lyk nuut op die rype ouderdom van 16 en ons bestel ons biere en gaan sit in ‘n donker hoek.(Mens weet nooit waneer Mnr. Stonehouse besluit hy is dors nie en as hy jou vang word jy Maandag voor die skool uitgeroep by die saal byeenkoms)

So word ons dronk. Op ons jong fikse ouderdomme het dit nie veel gevat om ons so te kry nie, en so tussen die badkammer toe slinger deur stap ons in sy neef vas. Die was duskant 40, en Thys se voog.

Hy was toe nie so kwaad as wat jy sou dink nie, en ons kuier saam met hom verder. ‘n Rukkie later tik Thys my op die skouer en wys my sy neef se kar sleutels. Nou ek hoef nie te verduidelik dat enige seun op 16 wil bestuur nie. Natuurlik glip ons weg en gaan soek na die kar. Horing dronk natuurlik…

Nou, in 1996, was die spesifieke Mercedes nogal ‘n baie moderne kar, en dis wat op ons wag toe ons daar kom. Ons was nat. Ons klim in, Thys eerste, en daar gaan die ou voor ons se agterste bumper, en ons voortse een. Thys en ek kyk mekaar, en ons ruil sitplekke sommer so binne die kar.

Ek reverse, en daar gaan ons agterste bumper, en die ou agter ons se voorste een. Ek probeer weer, en kom uit die parkering uit minus ‘n voorste bumper, en ‘n baie mooi sparkler wat agter my aansleep deur die hoofstraat agv die agterste ou se bumper wat nog vas sit aan ons sin.

Ons stop nie want netnou kan ons nie weer weg kom nie. Ons ry en iewers vrek die kar omdat ons clutch control nog nie so goed is nie. Thys vat oor.

Hy ry daai bonnet vir jou so knak deur die middel teen ‘n muur vas.

Ons los toe maar die kar daar, en stap die twee blokke terug kroeg toe, en gaan sê so ewe nag vir sy neef voordat ons na my huis toe gaan. Wel, Maandag is Thys nie by die skool nie. Ek bel maar kry nie antwoord nie. Voor tweede pouse word ek kantoor toe geroep en daar staan twee ooms in blou, en ‘n baie befokte mamma vir my en wag.

Ek het net geweet ek gaan bars. My Dad, vreemd genoeg, het half verlig gelyk. In na denke besef ek dat dit dalk was omdat hy op daardie stadium al woes begin stres het oor my “voorkeure” van lewensmaats, en hy het dalk hoop gesien omdat ek ook aanjaag soos ander laaities.

Dit het hom iets anders gegee om oor te gesels met sy braai tjommies. Ek neem hom nie kwalik nie, geen ou wil gaan afshow met hoe mooi sy seun hare blaas by ‘n bierdrink braai nie. Wel, nie waar ek vandaan kom nie.

My Dad het gegaan en mooi gepraat met Thys se neef, seker maar die kinders is kinders ding gewees, ek weet nie. Daar was toe darem nie sake nie.

Hy het nog mooier met my bemoerde ou moedertjie gesels, maar dit het minder resultate gehad. Ek hoor dit vandag nog. Veral as sy my twee jonger broers vasvat sê sy graag:”Ek het jou boetie gekry tot waar hy is, kardiefstal en al, ek skrik nie vir julle mannetjies nie!”

Die ding is, ek praat hier van my stiefpa, maar ek onthou nooit die stief deel nie. Hy was Pa. Hy was kwaai, maar hy was cool. Vandag nog is hy iemand waarvoor ek lekker kan lag.

No comments:

Post a Comment