Monday, January 4, 2010

Daar is 'n gay Pastoor in my kop.

“Die kontroversiële saak van homoseksualiteit in die kerk vorm die kern van die boek. Die outeur het aanvanklik geweier om sy homoseksualiteit te aanvaar en was uiteindelik oortuig dat dit slegs ‘n duiwel is wat uitgedryf moet word. As jongman ontmoet hy ‘n vrou met wie hy later trou, hy word pa en ook ‘ suksesvolle AGS Pastoor in Johannesburg. Maar as mens bly hy ontevrede en onvervuld. Die hart van die storie dui hoe sy vrou van hom skei, hy uiteindelik sy homoseksualiteit aanvaar en vrede en geluk vind in sy verhouding met Johan.

Die boek is ‘n duidelike maar ook pynlike uitbeelding van die wroeging wat ‘n gay man ervaar……..Philip Liebenberg is huidiglik pastoor by Die Kapel in Melville, Johannesburg” – Daar’s ‘n Gay Pastoor in my kop geskryf deur Phillip Liebenberg.

Natuurlik koop ek mos toe die boek. Dis min dat ons hier in my dorpie op gay-lit afkom. Behalwe vir die haarkapper (oviaas) is ons die enigste gay ouens hier op die dorp wat braaf (en ja dis die regte woord) genoeg is, en die “audacity” het om ‘n verhouding te hê.

“Oi wei!” Skree die kerk en maak groot oë. Snaaks genoeg was die Pastoor van wie ek in my skrywe Pastor say:”God can’t accept you if you’re gay.” geskryf het ook ‘n ou AGS fosiel gewees. Eers was ek baie, baie kwaad vir hom.

Hy het dit amper reg gekry om ‘n baie opregte en intense soeke na God morsdood te slaan met sy woorde:”Jy is nie welkom voor God nie. Kies tussen God en jou aanstaande, dan kom jy terug na my toe as jy God gekies het.”

Dit was natuurlik gesê met die mooiste glimlagie op sy lippe, en ek kan met alle eerlikheid vandag sê dat ek GEEN van God se liefde in daardie pastorie gevoel het nie.

Oom Pastoor, ja, jy wat so lekker oor jou belt borrel. Ek voel ek wil vir jou ook ‘n paar dinge sê.

Jy weet, jy is al in die 30 jaar getroud. In daai tyd het jy nog nie een aand alleen gaan slaap nie. Jy het ‘n seun. Jy gaan eendag kleinkinders en agter-kleinkinders hê. Jy word nooit snaaks aangekyk nie. Daar word nie van jou verwag om elke dag “konsert” te hou terwyl jou hart siek is van alleen wees nie.

Ek is gelukkig, ek KAN vir myself dink. Ek besef hoe verkeerd jy en jou kerk is teenoor gay mense. Ek weet darem dat die kerk nie God is nie. Duisende ander gay persone besef dit wel nie, en dis oor hulle wat ek wil jy moet dink.

Hoeveel gay mense het nie soos ek voor ‘n Pastorie se deur te staan gekom, net om verwerp te word nie? Hoeveel van hulle het nie daar en dan omgedraai en nooit weer terug gegaan nie? Is jou werk nie om God se kinders (en dis ons almal, glo dit of nie) voor die kruis te kry nie?

Ek is nie ‘n teoloog nie, so ek gaan nie verse begin rondgooi nie. Ek weet wel dat daar net ±5 versies in die hele bybel is wat homoseksualiteit aanspreek. En altyd in die konteks van welus, of iets soortsgelyks. En dan is daar ‘n vetalings kwessie, en die konteks waarin die vers geskryf was, wie die skrywer was, wat sy bedoelinge was. Duisend en een dinge wat dit kon beinvloed.

Jy het my weg gewys by God. Jy het gesê ek is nie welkom by God nie want, en hoe was jou woorde nou weer? “…want die kerk, en ek self ook voel so”

Die God wat ek as kind leer ken het, voor ek van seks iets af geweet het, was ‘n God wat vir almal lief is. Wat sy seun gestuur het om vir sondaars te kom sterf (nl. Ons almal. Jy ingelsuit) Hy was ‘n God wat nie onderskei het tussen sondes nie. Of miskien was daai een die God vir hetroseksuele mense? Hoekom dink ek nie so nie?

God is nie jou besitting nie Oom Pastoor, hou op om Hom net aan jou en die wat soos jy dink toe te eien. Hy is daar vir ons almal, en ons is Sy besitting.

(Original Posting can be found here, and it was written by me).

No comments:

Post a Comment